Menu
 

BARNEY JORDAAN (lbw@landbou.com)
21 Augustus 2003

3042 keer gelees | 0 kommentaar

Die bepalings van die sektorale vasstelling van minimum lone vir plaaswerkers is meestal nie drukkender as dié van die Wet op Basiese Diensvoorwaardes nie. Trouens, boere geniet 'n vrygewiger bestel as hul eweknieë buite die landbousektor oor reëlings ten opsigte van werkure.


Die bepalings van die sektorale vasstelling van minimum lone vir plaaswerkers is meestal nie drukkender as dié van die Wet op Basiese Diensvoorwaardes nie. Trouens, boere geniet 'n vrygewiger bestel as hul eweknieë buite die landbousektor oor reëlings ten opsigte van werkure.

Die kreatiewe gebruik van buigsamer werksreëlings kan die druk verlig op boere wat deur wetgewing in 'n moeilike situasie geplaas word. In verdienstelike gevalle kan aansoek gedoen word om vrystelling.

Die Wet op Basiese Diensvoorwaardes van 1987 reguleer minimum diensvoorwaardes, soos werkure en verlof, maar skryf nie minimum lone voor nie.

Die Wet op Basiese Diensvoorwaardes is einde 2002 aangevul met bepalings spesifiek van toepassing op plaaswerkers. Dit sluit in minimum lone en die toepassing van die wet op die landbou om vir die spesifieke omstandighede in die landbou voorsiening te maak.

Die sektorale vasstelling van minimum lone vir plaaswerkers vervang die bepalings van die Wet op Basiese Diensvoorwaardes ten opsigte van werkure en kinderarbeid, terwyl die bepalings ten opsigte van kennistydperke, verslagdoening en verlof oor die algemeen ooreenstem met die bepalings daarin.

Die sektorale vasstelling van minimum lone vir plaaswerkers het ook betrekking op huiswerkers wat op plase werk.

Die mees omstrede bepaling is die een oor minimum lone. Dit verskil van munisipale gebied tot munisipale gebied. Dit is vasgestel op R3,33 per uur (of R650 per maand) in sekere gebiede tot R4,10 per uur (of R800 per maand) in ander gebiede. Daar word voorsiening gemaak vir 'n jaarlikse verhoging van ongeveer 9 % per jaar vir die volgende drie jaar.

'n Besondere probleem met die wetgewing is dat iemand wat ingevolge dié bepalings minder as 45 uur per week, maar meer as 27 uur per week werk, dieselfde betaal moet word as iemand wat 'n volle 45 uur per week werk. Die enigste keuses wat boere het om dié probleem die hoof te bied, behalwe om die vereiste minimum te betaal of vrystelling te probeer kry, is om:

  • Die werknemer se ure te vermeerder tot die maksimum wat toegelaat word, naamlik 45 gewone ure per week, of
  • Die ure te verminder tot minder as 27 uur per week, in welke geval die werker betaal word slegs vir die ure gewerk, of
  • Die gemiddelde aantal werkure te bereken.

'n Eensydige verandering van werkure is egter nie toelaatbaar nie, en die instemming van die betrokke werker moet in ál hierdie gevalle verkry word.

Interessant genoeg, brei die bepalings spesifiek van toepassing op plaaswerkers die Wet op Basiese Diensvoorwaardes se verbod op aftrekkings van lone uit deur aftrekkings vir, onder meer, die verskaffing van werkklere, toerusting, gereedskap of opleiding ook te verbied. Werkers mag nie gedwing word om goedere by 'n bepaalde persoon of winkel (soos 'n plaaswinkel) te koop nie.

Hulle mag ook nie beboet word nie of daar mag nie van hulle verwag word om te erken dat hulle bedrae ontvang wat meer as hul werklike loon is nie. Geld vir verblyf en kos mag ook net in bepaalde omstandighede afgetrek word en mag nie 10 % van die werker se loon op enige betaaldag oorskry nie. As die werker vir behuising betaal, moet die woonplek bewoonbaar wees en toegerus wees met lopende water en elektrisiteit en mag dit nie kleiner as 30 m2 wees nie.

In ooreenstemming met die Wet op Basiese Diensvoorwaardes vereis dié bepalings ook dat verslag gehou word oor 'n werker se werklike diensvoorwaardes en dat state (betaalstrokies) aan werkers verskaf word waarop sekere voorgeskrewe inligting verskyn.

Ook in ooreenstemming met die Wet op Basiese Diensvoorwaardes stel die sektorale vasstelling van minimum lone vir plaaswerkers die gewone werkure op 45 uur per week vas. Dit sluit etenstye uit, mits 'n etenstyd nie langer as 75 minute duur nie. Mense van 15 tot 18 jaar oud mag nie langer as 35 uur per week werk nie. Daar mag ook nie van hulle verwag word om vir verblyf te betaal nie.

Dit is dus belangrik dat boere die ouderdom van jonger werkers verifieer, want dit is ook 'n misdryf om mense onder die ouderdom van 15 in diens te neem.

Gemiddeld

Ingevolge die sektorale vasstelling van minimum lone vir plaaswerkers kan die gemiddelde werkure bereken word en kan werkweke saamgepers word. 'n Boer moet egter in gedagte hou dat die Wet op Basiese Diensvoorwaardes bepaal dat die berekening van die gemiddelde aantal werkure slegs deur middel van 'n ooreenkoms met 'n vakbond toegelaat word. Die bepalings spesifiek van toepassing op plaaswerkers vereis slegs 'n "geskrewe ooreenkoms" wat ook 'n skriftelike ooreenkoms met 'n individuele werker kan insluit.

Die standaardoortydreëlings van die bepalings spesifiek van toepassing op plaaswerkers is toegeefliker as dié van die Wet op Basiese Diensvoorwaardes omdat dit 15 uur oortyd in plaas van die gewone 10 uur oortyd toelaat.

Die bepalings betreffende werk op Sondae, etenstye, rustydperke en werk op openbare vakansiedae stem ooreen met dié van die Wet op Basiese Diensvoorwaardes, maar die definisie van nagwerk verskil. Die Wet op Basiese Diensvoorwaardes definieer nagwerk as werk wat tussen 18:00 en 06:00 gedoen word en waarvoor 'n (ongespesifiseerde) toelae betaal moet word.

Ingevolge die bepalings wat spesifiek op plaaswerkers van toepassing is, behels nagwerk werk wat van 20:00 en 04:00 gedoen word. Die gewone uurtarief plus 'n toelae van 10 % moet betaal word vir werk wat gedurende dié ure gedoen word.

Die bepalings ten opsigte van verlof stem ook ooreen met dié van die Wet op Basiese Diensvoorwaardes, maar ingevolge die sektorale vasstelling van minimum lone word in besonderhede aangedui wie mediese sertifikate mag uitreik. Laasgenoemde behels gemeenskapsgesondheidswerkers, kliniekverpleegsters en tradisionele genesers, maar slegs ten opsigte van hul kundigheidsgebiede.

Lesers kan meer oor hierdie onderwerp kry van Labourwise, 'n aanlyn-arbeidsverhoudingediens gerig op entrepreneurs en boere. Die webadres is http://www.labourwise.co.za.

Prof. Barney Jordaan is 'n kenner van die arbeidsreg

22 Augustus 2003


Kommentaar
Slegs in Afrikaans

Naam Kommentaar
E-pos
Tik in die nommers  

Vind jou perfekte maat nou!

Ek is 'n:
Stel belang in:
Ouderdom: tot
Huidige
Ligging:
Wys net profiele met foto's

Teken in vir die nuusbrief

Teken in op Landbou se weeklikse nuusbrief deur jou e-posadres hier in te vul.

Lewende Hawe

Soort 20/05/14 27/05/14 %
Beesvleis A2/A3 3361c 3378c down 0.5
Speenkalf (lewend) 1608c 1607c down -0.1
Skaapvleis A2/A3 4556c 4565c down 0.2
Varkvleis (gem. prys) 2114c 2106c down -0.4
Braaikuikens 1713c 1740c down 1.6

Aandele